Saturday, December 20, 2014

Stilte

Aan die einde van 2014 voel dit vir my asof my binnekant smag na stilte. Ek word nou die oggend stil en soos ek my Bybel lees is dit asof hierdie woorde soos die eerste sagte reëns is na 'n lang winter. Manna vir my siel. 

In elke opsig was 2014 'n buzzzzzzzz jaar. Voel of my kop nooit stil geword het nie! Maar helaas is daar nou 'n tyd van rus. Twee jaar gelede toe ons die suide van Namibië gaan ontdek het, het ek nie dieselfde terug gekom as wat ek was voor ons vertrek het nie. Daardie stilte en herontdek van Vader se teenwoordigheid in die natuur was oorweldigend. Ek onthou dat ek 'n God-bewustheid daar beleef het. Dit is waarna ek uitsien wanneer ons nou die Noorde van Namibië gaan verken. Wat 'n voorreg! 

Ek kyk saam met die kinders nou die dag die fliek The ultimate gift. Een van die geskenke was The gift of a day. Met die krieket toets wat vroeër klaar gemaak het, wen ons twee dae op ons vakansie en ek beleef hierdie as 'n groot geskenk! 

Wanneer ek dink aan 2015 besef ek, ek sal graag meer bewustelik wil leef! Nie net deur die 'motions' gaan nie, maar regtig elke oomblik indrink soos wat ons hierdie vakansie gaan doen. Baie meer stil word en wegtrek uit die buzzzzzzzz en meer fokus op wat God nou in hierdie oomblik wil kom doen. 

 Johannes 1:6-10 kry vir my 'n nuwe betekenis en ek besef dat ons is almal deur God gestuur soos Johannes, om Sy lig hier te kom reflekteer. Mag dit nog meer so wees van hierdie dag aan. Mag dit vir julle ook tot seën wees. 


6Daar was 'n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. 7Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. 8Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. 9Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 10Hy wás in die wêreld — die wêreld het deur Hom tot stand gekom — en tog het die wêreld Hom nie erken nie.

Seën vir elkeen wat die boodskap lees tot ons weer kuier. 

Estelle