Saturday, January 17, 2015

2015

Ons het hierdie jaar ingegaan in Namibië. Wat 'n voorreg was dit nie. Om die eenvoud te beleef van hierdie Himba mense en die allermooiste skoonheid van die natuur - die paaie wat ons gery het, het ek nooit eers gedroom sou ons kon ry nie - wat nog van geleentheid kry om te ry nie... Die kontraste tussen klip en sand en dan gelykte en dan weer berge was verstommend.

Einde 2014 voor ons met vakansie gegaan het, kom ek agter dat ek 'n geestelike honger het. Ek was fisies en emosioneel MOEG en uitgeput, maar geestelik HONGER! So staan ek voor my boekrak en dink wat gaan ek die vakansie lees? Die boek wat se titel vir my uitstaan is 'n boek wat ek 20 jaar gelede gelees het met die titel Come away my beloved geskryf deur Frances J Roberts. Dis kort stukkies, maar bevat soveel waarheid van wie God is! Ek neem die boek saam op ons reis. En soos ek lees, is dit soos sy in haar voorwoord geskryf het ook vir my:
"Wether you are just beginning your Christian walk or have grown into a fuller stature in Christ, you will be equally challenged and helped. Some books give instruction for Christian Living; others inspire to greater devotion. Come Away, My beloved will do both as you open your soul to its living message."

Langs die watergat in Etosha een oggend lees ek 'n stukkie uit die boek met die titel On the waters of sorrow - ek haal aan:
"As I have opened thine eyes to see, so shall I open thine ears ro hear, and ye shall come to know Me even as did Moses, yea in a face-to-face relationship.
For I shall remove the veil that separates Me from thee and ye shall know Me as thy dearest Friend and thy truest Comforter." (P16)

Dit herinner my onmiddelik aan 'n belewenis wat ek een oggend in Puros (dis woestyn) gehad het, toe ek stil word: Ek raak bewus daarvan dat Moses ook soos die himbas wat met hulle vee trek na waar daar weivelde is, getrek het in die woestyn. Hierdie gedagte het vir my die Bybel soveel meer 'real' gemaak!

Ek lees 'n ander oggend:
Hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie net meer op grond van wat jy gesê het nie; ons het nou self gehoor wat Hy sê, en ons weet dat Hy regtig die Verlosser van die wêreld is.” (‭JOHANNES‬ ‭4‬:‭42‬ NLV)

Dit is die storie van Jesus se ontmoeting met die Samaritaanse vrou. Die vraag wat by my opkom is: Glo ek omdat ek self gehoor het of op grond van iemand anders se getuienis?

In 2015 beleef ek net dat Vader ons nog nader na Hom wil trek! In alles wat ons is, moet ons Hom eerste vertrou. Kom ek verduidelik:
31 Desember moes ons vriende hulle sleepwa in Oropembe los nadat beide die vere gebreek het en ons net nie kon regkom om dit reggemaak te kry sodat die wa kan ry tot in SA nie. So, verdeel ons die vrag tussen die twee voertuie. Nou moet julle weet, ons het geen opvangs gehad al vir baie lank nie en ook 4 dae geen krag nie. Alles is dus teen die tyd pap.

Ons ry van Oropembe na die Marble mines waar ons die aand gaan oorslaap - 25 km neem ons 'n uur! Die pad is sleg, maar die omgewing is baie mooi - soos ons nou reeds al gewoond is aan :-) ry stadig en geniet die omgewing - drink die skoonheid van God se skepping behoorlik in.

Daardie nag kan ons nie slaap nie. Ek lees op 'n stadium'n boodskap wat Sanet al 25 Desember gestuur het as 'n seënwens vir 2015:
Isa 41:10    Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.

Hieride Woord kom gee vir my rus en vrede vir ons reis vorentoe. Min het ek geweet dat die 2de Januarie ons splinternuwe sleepwa se wiel morsaf sou breek van die as af! Op 'n mooi pad in Etosha het die wiel net afgebreek. Weer het ek net besef een oggend toe ek uit Come away My beloved lees Dependance on God en The burden Bearer dat ons nie weet hoe die toekoms lyk nie, maar Vader is reeds daarin - hy het reeds die planne gemaak vir elke uitdaging wat gaan kom. Dit sluit so mooi aan by iets wat ek geleer het toe ek Graham Cooke se boodskappe oor Identeit geluister het - hy het ook hierdie ding kom sê - vir elke probleem is daar reeds 'n oplossing. Ons moet net vra, Here hoe nou?

Hy het voorsien! Jurgens het gereël dat ons 'n as van 'n sleepwa wat reeds verkoop was (die eienaar moes dit net nog kom haal en het toestemming gegee dat ons dit mag kry!) van Windhoek na Outjo courier sodat die manne dit kon gaan haal en op ons sleepwa sit sodat ons steeds betyds terug kon kom SA toe. Prys die Here vir Sy voorsiening. Ons wag steeds om te hoor of Jurgens ons sleepwa gaan vervang of regmaak - ek hoop vir vervang, maar het vrede daaroor!

Iets anders wat ek beleef het die vakansie wat my diep geraak het, was "kindness". Ek onthou toe ons die Beth Moore kursus gedoen het oor die vrug van die Gees en gekom het by kindness het dit vir my uitgestaan want ek het nog nooit so daaroor gedink nie. Kom ek verduidelik:
Van Puros na die Marmble mines in Oropembe ry mens vir omtrent 17 km in die droë rivierloop. Dis baie dik sand. Maar die manne het die wiele goed afgeblaas en ons is gereed vir die avontuur wat wag. Ons val op 'n stadium vas en Albert moet ons kom uittrek, maar ons is rustig hieroor - dis deel van die avontuur. In die proses, kom daar 'n paar bakkies by ons langs wat dieselfde pad ry - vriendelike duitsers. Hulle vra of hulle kan help, maar die manne sê ons is reg - sal hulle nie asb net waar ons moet uitklim uit die rivierbedding vir ons klippe pak dat ons kan sien hoe om te ry nie? Want daar is nie padtekens nie! Ja, seker sê die Duitsers en daar gaan hulle.

Toe ons klaar uitgetrek is en besig is om Albert se sleepwa weer te haak, kom die een bakkie teruggery. Hy praat met die mans en verduidelik dat daar geen manier is wat ons (die Drysdales) met ons 2x4 en sleepwa daardie bult sal kan uitkom nie. Hy sal die sleepwa vir ons haak en dan kan ons agter hom aanry!

Ek het sommer gehuil. Hierdie man het nie nodig gehad om terug te draai om ons te kom help nie. Maar later verduidelik hy, dat hulle in die Sahara woestyn so vasgeval het en hoe hy moes sukkel en hy het gedink hy kan ons dit spaar!!! Hierdie was "kindness" wat my heeltemal anders laat kyk na my medemens wie se reis ek dalk kan help makliker maak!

Ook het ons toe ons teenspoed beleef het in Etosha soveel "kindness" beleef:
- die dame wat vir ons moes plek maak in die reeds vol bespreekte kamp omdat ons bespreking in 'n ander kamp was, maar ons nie tot daar kon ry nie.
- die vragmotor drywer wat op 'n Vrydagmiddag 15:30 vir Malcolm moes neem na waar die wa op sy maag lê en met groot gesukkel dit op die bak gehys het met die hyskraan.
- die verkoopsman, Arnold, in Windhoek wat sy beste gegee het om vir ons 'n plan te maak!
- die eienaar wat sy sleepwa se as vir ons afgestaan het.

Voorwaar gaan 2015 'n ander jaar wees :-) Mag hierdie boodskap julle bemoedig vir 2015 en mag jy aan die einde van 2015 ook jou eie stories kan vertel van hoe jy God se Hand in jou lewe kon sien, Sy stem kon hoor en nie net glo op grond van iemand anders se getuienis nie. Alles tot eer van Sy Wonderlike Naam.

Seën vir julle elkeen tot ons weer kuier.