Wednesday, February 11, 2015

Leef in die oomblik

Gisteroggend lees ek die opskrifte op Beeld dat Koeberg se "glipsie" ons 7 miljard rand gekos het.  Nou, ek het nie die berig gelees nie - koerantopskrifte langs die pad is die naaste wat ek kom aan 'n koerant ....  Maar die opskrif het my tog aan die dink gesit.

Ja, iemand het iewers 'n fout gemaak en dit het ons belastingbetalers verskriklik baie geld gekos, om nie eens te praat van die frustrasie om nie altyd krag te hê nie, maar tevrede te wees met Eskom se dankie dat ons ons krag gebruik beperk, al betaal ons vir hierdie diens!  En ek kan seker nog verskriklik baie aangaan, maar ek bewaar vandag my hart!

Want kom ons dink bietjie hieroor - hoeveel kere maak ons nie ook "glipsies" nie?  Of dit nou is om onredelik te wees met ons kinders, of ongeduldig met die kasier in die inkopiesentrum of vir iemand iets toe te snou wat voor jou inry of om waar ookal iemand anders te benadeel ....

Niemand van ons is sonder foute en beleef elke dag 'n hemel op aarde dag nie!  Wat kos daardie "glipsies" ons? Of iemand anders betaal die prys, nie ons nie - soos daardie liedjie van Casting Crowns - Just another birtday - waar die dogter wag vir haar pa om haar te bel met haar verjaarsdag en hoe sy aanvanklik verskonings maak en dink dit is OK, maar soos sy ouer word besef, dit is nie OK nie.  Tot sy uiteindelik vrede vind by haar Hemelse Pappa wat die ENIGSTE EEN is wat ons nooit sal teleurstel nie! (Luister gerus daarna by: www.youtube.com/watch?v=-Tu6NQ4L01w)

Maar ons kan dit anders doen!  Al het ons reeds tonne foute gemaak, kan ons klaar maak daarmee en weer elke dag genade vind by Vader wat vir ons eerste liefgehad het en steeds lief is.

Ek is besig om aan 'n projek te werk waar ek 12 inspirasie oomblikke geskryf deur Prof Ronny Webber-Youngman (hy is die Hoof van die Mynbou Ingeneursdepartement by UP) op CD sit en ek is telkens so aangeraak deur hierdie gedeeltes wat hy deel want ek weet dit is ook sy lewensfilosofie waarvolgens hy leef.

Ek deel graag met julle hierdie een.  Ronny skryf "It was during a visit to a pastor friend of mine in Scotland, Reverend Jan Steyn in 2013 that I was introduced to one of the most inspiring websites one can find, namely Ted.com.  I was then introduced to Benjamin Zander as one of the best motivational, no rather best inspirational speakers that I have ever seen or heard.  It was a life changing experience.  If you never liked or listened to classical music and the message that Benjamin drew from it, be warned, it can also change your life.  Until now it still remains one of my most favourite inspirational talks I ever listened to.  Are you the conductor in your own life and do you make other people’s eyes shine? Well then go and listen to Benjamin and I hope you enjoy it as much as I did."
http://www.ted.com/talks/benjamin_zander_on_music_and_passion

Hierdie stuk het met my gepraat want aan die einde van laas jaar het ek besef dat ek die hele tyd in die toekoms leef.  Ek moet my lewe tot op die haar toe beplan net om te voel ek kom by alles en almal uit en deur dit so te doen leef ek in die toekoms want ek mis vandag!  Is ek besig om net so bietjie stadiger te beweeg sodat ek kan hoor die stories wat my kinders my vandag wil vertel?  Vrydagaand was vir my so 'n oomblik.  Malcolm het vroëer die week bedank want hy het ander werk gekry waaroor ons baie dankbaar is vir  die nuwe geleentheid.  Maar dit was dan ook ons laaste krieketwedstryd wat ons kon gaan kyk in sy mooi kantoor by Supersport park.  Elke keer wat ek daar 'n wedstryd gaan kyk en beleef het, dan het ek geweet - hierdie is slegs vir 'n seisoen - ek moet dit waardeer en nie as vanselfsprekend aanneem nie!  Mens kom mos op sulke plekke - veral as mens so vir lank by een plek werk - April sou Malcolm 6 jaar by die Titans gewees het.  Maar die aand was so anders - Graham het maats gehad saam met wie hy op die pawiljoen ("stands") gaan sit het, Shauwn en Jason het heerlik op die gras gaan speel want daar was nie so baie mense nie, Malcolm het die aand (eerste keer wat hy daar werk) in die Presidensiële losie gesit! En ek was alleen in sy kantoor.  Ek kon oor soveel goed dink en terugkyk en dankbaar wees vir hierdie seisoen - geleenthede wat ons gehad het, lang ure wat ons daar deurgebring het, goeie en slegte tye - watter werk het dit nie?

Maar deurentyd was daar 'n diepe dankbaarheid in my binneste.  Ek kon in die oomblik inklim, die skuifdeure in sy kantoor wawyd oopmaak en op die bank sit, die klanke en opgewondenheid buite hoor en sien hoe daar viere en sesse gemoker word :-)  Oppad huis toe sien ek die maan raak wat amper, amper vol is.  En ek onthou hoe ons in die woestyn die vakansie elke aand gewag het vir wanneer gaan die maan vol wees ...  En net daar besluit ek toe as ek tuis kom, gaan ek nog so bietjie langer in die oomblik bly.  Die kinders is bed toe en ek het op die trampolien gaan lê en sterre kyk!!!  Wat 'n voorreg om die lewe so bietjie stadiger te kan draai met tye en net sulke asemskep oomblikke te kan beleef.  Om weer te besef hoe klein ons werklik is en waarmee hou ons ons so besig?!

Soos Benjamin Zander vra - blink die mense om jou se oë?  Mag die Here ons krag gee om hierdie jaar anders aan te pak!  Mag Hy ons genadig wees om in die oomblik te leef en nie in die toekoms nie.  Mag ons almal om ons inspireer om Hom eerste te soek en by Hom vrede te vind en wanneer ons daardie vrede vind dat  dit sal oorloop na almal met wie ons elke dag te doene kry.

Seën vir julle elkeen tot ons weer kuier
Estelle

PS: Pretorianers, ek laat weet ook net die Lewe in Oorvloed seminaar is in Pretoria van 6 - 8 Maart - moenie dit mis nie!  (loer op die webwerf vir meer inligting of 'n datum in jou omgewing http://infreedomandhealth.co.za/)