Saturday, January 15, 2022

2022

 As daar 'n dag in my lewe is wat ek sou wou bottel dan is dit 15 Januarie 2022.

Ek word wakker om 00:50 met water wat loop. Die volgende gedagtes kom by my op:

  • Strome lewende water sal uit jou binneste vloei.
  • Wie het die buite kraan oop vergeet? Is dit die kraan?
Ek besef as ek weer wil slaap moet ek opstaan en gaan hoor wat is op die Here se hart. Soos ek in die gang afstap en by die hek kom waar die dakvensters begin, hoor ek die sagte druppels op die glas: Dit reën!! Hoe ontsagwekkend (awesome) om op my 50ste verjaarsdag om 00:50 bewus te word van die reën.

En dis hoe die dag beginne het!

Ek is tans besig om elke dag deur 'n ander boek in Spreuke te lees. Dus maak ek by Spreuke 15 oop:
Vers 1. "'n SAGTE antwoord keer die grimmigheid af, maar 'n krenkende woord laat die toorn opkom."
Ek beleef hierdie is die woord vir die nuwe seisoen wat ek betree.

Kom ons stap bietjie terug na die begin van Januarie. Ek gesels met 'n vriendin op 31 Desember wat met my deel wat sy geleer het in haar stoei met die einde van 2021 en oorgaan na 2022 = drumpel (threshold). Hoeveel betekenis daar steek in hoe ons 'n nuwe drempel betree. 'n Nuwe drempel is soos die oorgaan van 1999 na 2000. Maar ook 31 Desember na 1 Januarie. En ek besef in die aanloop voor 15 Januarie dat hierdie dag ook vir my 'n drumpel dag gaan wees. Dus is ek bewustelik besig in my kop om afskeid te neem van een seisoen en gereed te maak om die nuwe seisoen intens binne te gaan.

Tydens die refleksie onthou ek 'n woord wat 'n liewe vriend vir my gesê het tydens ons 31 Desember 1999 uitgaan: "Estelle, is soos 'n ongeslypte diamant." Wat ek in my refleksie besef het was hoe verskriklik kosbaar daardie stelling was! Amper 22 jaar later kry ek in November 2021 'n profetiese woord waar die persoon 'n diamant hangertjie sien. Dit het 'n baie uniek geslypte diamant in. Ek besef - dis 'n seisoen van 22 jaar waarin die Here op Sy sagte manier kom slyp het en my kom vorm het om al meer te word wie Hy my oorspronklik geskep het! En dis nou voltooi. Die hangertjie is klaar, maar die proses is nie 😃 Ek het 'n opgewondenheid want hierdie hangertjie moet hierdie volgende seisoen God se Vaderhart van liefde refklekteer - orals waar ek skouers skuur met mense. En dis moeiteloos want dis vanuit 'n Maria posisie (liefde) en nie 'n Martha posisie (werk) nie.

Terug by 15 Januarie 2022: Oomblik vir oomblik is ek bewustelik besig om die dag in te drink - die geur van die koffie wat brou, die kleur van die bessies op die tafel, die voorreg om vriendin diamante om my tafel te hê wat lag en later 'n sagte reën oomblik deel toe een van my vriendinne deel hoe God vir haar kom sê het die sagte reën van die nag was spesiaal vir my bedoel. Ek drink uit elkeen, die strome lewende water wat vloei na my toe deur die mooi wense, elke oproep, elke woord. Ek hoor en voel liefde en vrede en vreugde! Die woorde wat keer op keer bevestig word deur die loop van die dag.

Ek het aan die begin van Desember besef ek sal moet iets doen vir my verjaarsdag - dit gebeur immers net een keer dat mens hierdie mylpaal bereik, maar as gevolg van die goed wat ek in die jaar 2021 beleef het met op die randjie staan van uitbrand Feb 2021, covid Junie, intense moeg teen Desember - vra ek myself af , - waarvoor gaan ek kans sien Januarie 2022? Hoe gaan dit lyk? Gaan ons weer 'n Januarie beleef soos 2021 waar ons weer teruggaan in 'n beperkende grendelgreep - gaan dit veilig wees om mense te sien?

En so besluit ek - informeel is wat sal hanteerbaar wees. 15 Januarie is altyd 'n moeilike datum vir almal want die skole het pas begin of gaan begin, almal is pas terug van vakansie en in rep-en-roer om die nuwe jaar gereed te kry - wie gaan tyd op 'n Saterdag kan afstaan en wat van die familie? Almal is ver! My sus se nuwe skooljaar het dan pas begin - sy weet nog nie hoe lyk haar program wanneer ek moet uitnodigings stuur nie.... My swaer en skoonsus het dan pas verhuis in Desember na 'n nuwe stad - hulle kinders begin in nuwe skole ... My skoonouers vertrek altyd daardie tyd met vakansie .... "Hou dit net eenvoudig, Estelle" - gesels ek met myself. 

En so was dit 'n "eenvoudige" dag van lewe deel met my Pretoria sussies en 'n paar brawe boeties 😃. Ek kyk terug na die dag en ek is diep dankbaar. Hier is 'n stuk rus wat in my kom sit het wat ek so wil vasklou aan en nie wil verloor nie. Dis 'n stukkie wat ek sal wil bottel en elke oomblik bewus van wil wees in 2022 en die res van my lewe tot in ewigheid.

Ek is dankbaar vir elke persoon - van my bloedfamilie, aangetroude familie, geesfamilie, kollegas tot kennisse - mense wat ek dalk vir 'n vlietende oomblik mee skouers kon skuur hierdie afgelope 50 jaar! Here, U is so getrou! U het elkeen doelbewus oor my pad gestuur soos Spreuke 27:17 sê:
"Yster slyp yster
en so vorm vriende mekaar."
 Wat 'n voorreg om LEWE te mag deel - U lewe wat U meesterlik vir my kom gee het Ps139:14:

"I will give thanks and praise to You, for I am fearfully and wonderfully made;
Wonderful are Your works,
And my soul knows it very well."

Here mag U verheerlik word in die volgende 50 jaar of solank U wil vir my is en vir ewig hierna!