Thursday, October 30, 2014

'n Ewige Hallelujah

Laas week Donderdag het ek 'n amazing tyd oppad werk toe saam met die Here in my motor. Ek luister na Matt Redman se CD, maar dis asof elke Jakaranda blommetjie daardie oggend donkerder pers is. Die lug is so donker grys-blou wat die belofte van reën inhou wat die kontras veroorsaak, maar soos ek die lied luister "An endless Hallelujah" is dit of daar net iets in my gees wakker gemaak word van ons wonderlike, wonderlike Vader.

Hierdie afgelope jaar het ons 'n vriendin, familielid en jarelange huisvriende van my ouers (die oom) verloor en sing hulle almal nou 'n Ewige Halelujah! Maar dis asof ek net beleeef dat Vader wil hê dat ons elke dag 'n Ewige Halelujah moet sing hier op aarde vir Hom :-)

Dit was eintlik vir my so wonderlik om tot hierdie besef te kom, want die vorige dag het ons bevestiging gekry dat ons 'n kursus (e-Learning for academics) wel gaan aanbied - ons het genoeg mense, maar die nuus kom soortvan 'n week te laat! Ek het 2 weke nodig om die kursus te paneelklop en reg te kry sodat die mense kan begin met die aanlyn komponent, 'n week voor die kontaktyd.

Terwyl ek werk toe ry, praat ek egter hierdie ding met die Here deur want ek besef ek het net nie genoeg tyd om hierdie betyds gereed te kry nie, maar ek het 'n vrede in my binnekant! Dis asof ek in daardie spesiale oomblik terwyl ek die onmoontlikheid van die situasie by Vader kom voorlê beleef hoe Hy my vrede kom gee en hoop op 'n wonderwerk!

Ek besef net ek het net soveel tyd, maar Vader kan my help om die onmoontlike steeds te vermag in die beperkinge wat ek beleef, ek moet rustig wees in my gees en terugstaan en kyk hoe hierdie gaan uitspeel. Vir die van julle wat my beter ken, sal weet, hierdie is 'n radikale kopskuif vir my want ek wil in beheer wees, maar die keer is dit net so 'n onmoontlike situasie. Dis reeds 'n week gelede en Dinsdag middag laat kon ek die uitnodiging om aan te teken uitstuur! Prys die Here! Sover het amper die helfte van die klas reeds aangeteken (hulle is net 12 :-), wat ook 'n wonderwerk is - gewoonlik kom die mense nie so vinnig uit die blokke uit nie :-)

Ek wil sommer julle aanmoedig om vandag na hierdie lied te gaan luister en mag dit jou ook inspireer om 'n Ewige Halleluja te gaan sing daar in die omstandighede waary jy jou bevind!

Watch "Endless Hallelujah Lyrics HD" on YouTube - Endless Hallelujah Lyrics HD: http://youtu.be/D16xiwqJYlE

Ek seën jou vandag met Ef3:16 Mag Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy Goddelike grootheid aan julle die krag gee om innerlik sterk te word.

Groete tot ons weer kuier
Estelle

Dis hoe pers die jakarandas was daardie oggend. Foto geneem op kampus.

http://youtu.be/D16xiwqJYlE

No comments:

Post a Comment