Tuesday, June 8, 2021

Hou moed

Nou hoe hou ons moed wanneer hier soveel onsekerheid in ons wêreld aan die gang is?

Hoor gou weer hier:

Hebreërs 12

Volharding onder beproewinge volgens die voorbeeld van Christus.

1DAAROM dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,

2die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.

3Want julle moet ag gee op Hom wat so 'n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.

4Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.

Die Amplified weergawe sê dit so:

"let us run with patient endurance and steady and active persistence the appointed course of the race that is set before us,

2 Looking away [from all that will distract] to Jesus, Who is the Leader and the Source of our faith [giving the first incentive for our belief] and is also its Finisher [bringing it to maturity and perfection]."

Waaraan hou ons vas wanneer ons allerhande uitdagings beleef?
Maandag het ek vir 'n oomblik fokus verloor - genadiglik het ek die vrees wat my oorval het kon deel met ons selgroep en dadelik kom die waarheid: Estelle, onthou wie is jou Bron - nie die werk nie, God! Ons het God se waarheid so nodig elke oomblik en elke gedagte wat ons dink.

Gister moes ek weer vasmaak in my hart:

  • God is liewer vir my geliefdes as wat ek ooit vir hulle kan wees.

Hy belowe:

Ps 23:4 Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

Heb13:5b Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. 6Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my 'n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal 'n mens aan my doen?

Henning het dit in sy preek so mooi verduidelik met 'n bloedrooi tou - waaraan hou ons vas? 

Soos ons die wêreld bekyk besef ek net die stryd gaan vir ons gelowiges net feller word. Ons moet God se waarheid vasmaak in ons harte vir die tye wat die aanvalle kom.

Malcolm het 'n paar jaar gelede 'n droom gehad hoe hy en 'n persoon stap op hierdie klippad en daar val klippe (boulders) op die persoon, maar telkens staan sy net op en gaan aan sonder 'n skrapie of seerplek. Toe ek vanoggend weer hieraan dink, besef ek dit is in ons wêreld besig om te gebeur - die klippe wat neerdaal van hoe ons wêreld beskouing is rondom geslag, seksualiteit, verhoudinge, die huwelik, ens. Ons moet vasmaak:

  • Waarvoor staan ons.
  • Wie is ons - wat die wêreld sê of wat God oor ons sê.
  • Wie is die skare gelowiges wat ons aanmoedig op hierdie wedloop van die lewe?

Mag ek jou vandag bemoedig om vas te byt ten spyte van wat jy ookal moet in die oë kyk:

Ps 68:20 Geloof sy die Here! Dag ná dag dra Hy ons; God is ons hulp! Sela.

Ek deel hierdie gebed wat 'n vriendin gisteraand vir my mee bemoedig het:

Hemelse VADER, help my om dag tot dag te leef, om nie bang te wees vir wat môre gaan bring nie. Baie dankie dat U my elke dag dra! Amen

Seën vir jou reis tot ons weer kuier.

No comments:

Post a Comment